top of page

As Christelike familie aanbid ons God; koester en bemoedig ons mekaar en reik ons uit in ons omgewing

KOINONIA

As verhoudingsgemeente gebruik ons al vir baie jare kleingroepe waar lidmate saam aanbid, mekaar koester, bemoedig en saam bedien.  Aangesien daar verskillende behoeftes en fokus areas is, het ander groepe mettertyd ook ontstaan. Tans bestaan die Koinonia bediening uit omgeegroepe, dissipelskapgroepe, Bybelstudiegroepe, ‘n vroue-Bybel-kuiergroep en ‘n mannegroep. Hiermee ‘n kort beskrywing van elke groep se fokus.

OMGEEGROEPE

Die doel van omgeegroepe is om ‘n platform te skep waar lidmate mekaar kan koester en bemoedig.

 

Om aan ‘n omgeegroep te behoort, help lidmate om hulle geloof tasbaar uit te leef. Hier word die lewe saam geleef! Hier word ons vriende en gesels ons oor ons lewensreise. In ‘n omgeegroep is daar altyd mense wat saam met jou bid en saam met jou deur die op en af van die lewe gaan. In ons gemeente is omgeegroepe ons primêre manier van pastorale versorging.

 

’n Omgeegroep verskaf ’n veilige ruimte waarbinne lede gereeld:

  • saam die Here aanbid;

  • hulle lewe met mekaar deel;

  • mekaar ondersteun;

  • vir mekaar bid;

  • saam die Bybel lees en prakties leer toepas;

  • sommer net lekker saam kuier.

 

Die uitvloeisel van omgeegroepe is meelewing, betrokkenheid en geleenthede vir diensbaarheid in die breër gemeente en gemeenskap waar jy die geleentheid kry om jou Godgegewe gawes saam met ander uit te leef tot eer van God.

HOE LYK ‘N TIPESE OMGEEGROEP?

‘n Tipiese omgeegroep bestaan uit 6 tot 10 volwassenes. Die Here het aan elkeen in die groep gawes gegee om mekaar te bedien. Bedienings in ‘n omgeegroep is, herderleier, onder-herderleier, Versorger (Lief en leed, verjaarsdae, reël van eetgoed), gebed-koördineerder, aanbiddingsleier (Reël lof en aanbidding tydens byeenkomste) en kinderversorger (rotasie basis).

 

WATTER INHOUD WORD BEHANDEL?

Meestal doen omgeegroepe kwartaalreekse soos in die gemeente aangebied word. Daar is ook omgeegroepe wat hulle eie materiaal doen. Die doel van die materiaal is nie ‘n in-diepte Bybelstudie of debat nie, maar gesprek oor die praktiese toepassing van Bybelse waarhede vandag en die praktiese uitlewing daarvan saam met medegelowiges. Indien jy by ‘n omgeegroep wil inskakel kontak die Kerkkantoor.

DISSIPELSKAPGROEPE

Dissipelskapgroepe maak gebruik van Ds. Deon Loots se materiaal waar daar op 4 modules gefokus word. Om een module te voltooi neem 24 weke. ‘n Groep doen een of twee modules per jaar en kom een keer per week bymekaar daarvoor. Die doel van hierdie groepe is om op ‘n reis van intensionele persoonlike geestelike groei te gaan om as dissipel van Jesus saam met mede-dissipels, Christus gesentreer te leer leef.

 

Elke deelnemer werk persoonlik tydens sy/haar stiltetyd by die huis deur die materiaal. Hy/sy gebruik ‘n joernaal om die kere wat hy/sy God se stem in sy/haar eie lewe kon onderskei van sy/haar eie stem, neer te skryf wat later in die groep met mekaar gedeel word.

 

Alhoewel die totale program in 4 modules opgedeel word, is dit egter nie nodig om jouself vir meer as 1 module (24 weke) op ‘n keer te verbind nie. Dit is egter ongelukkig nie moontlik om in die middel van ‘n module in te skakel nie, aangesien die sessies op mekaar volg en ‘n vertrouensverhouding in die groep, wat vanaf die eerste byeenkoms gevestig word, uiters belangrik is.

 

As jy met die Dissipelskapprogram wil begin (of weer wil inskakel nadat jy van die modules in die verlede gedoen het) kontak vir Jaco (083 799 9946).

BYBELSTUDIE

Die Bybelstudie wat op Donderdae oggende om 09:00 plaasvind kan beskryf word as ‘n saam-lees-deur-die-Bybel geleentheid. Ons werk deur 'n spesifieke boek in die Bybel. Voordat ons begin lees, bespreek ons eers bietjie agtergrond rondom die boek en dan begin ons daarmee en lees stukkie vir stukkie daardeur. Omdat ons stukkie vir stukkie lees, gee dit vir ons die geleentheid om baie oor die gelese gedeelte te gesels. Nie net is dit vir my ‘n voorreg om voor te berei vir hierdie saamlees geleenthede nie, maar dit verryk my ook as gelowige om saam met ander mense oor die Bybel te gesels.

 

Ons kom Donderdae oggende om 9:00 bymekaar.

 

Kontak gerus vir JZ (072 475 8152) indien jy meer inligting wil hê of daag sommer net op met ‘n Bybel in jou hand en lees saam.

VROUE-BYBELKUIER

Vroue-Bybelkuier is presies wat die naam sê: ‘n Heerlike, verrykende, vrywillige, informele omgeekuier rondom die Bybel vir vroue van alle ouderdomme en denominasies. ‘n Bybelstudiegids word gebruik om relevante temas vanuit Woordwaarhede te ontsluit, te bespreek en vas te lê. Liggaam-wees van Christus word prakties uitgeleef deur mekaar te  bedien met gesprek, gebed en ondersteuning.

 

Besonderhede van byeenkomste:

 

  • Wanneer: Woensdae, tydens skoolkwartale.

  • Waar: Konsistorie.

  • Tyd: 9:00 vir 9:30 tot 11:00.  Vanaf  9:00 word koffie/tee gedrink en gesels totdat  die Bybelstudie teen 9:30 ‘n aanvang  neem. (Dié dat een van die dames se man praat van haar “Kekkelkuier”!).

  • Kontakpersoon (Leidster): Wilna Theron (082 828 2428)

 

In die woorde van huidige lede:

“Ons Bybelkuier is so ’n spesiale kuierplek, aflaaiplek, bidplek en leerplek! Ek is nooit, as ek instap, dieselfde mens as wanneer ek uitstap nie.”

 

“Woensdae se Bybelkuier is ‘n groot hoogtepunt in my lewe. Wat ‘n groot voorreg om rondom die Woord saam met vroue wat glo en omgee vir mekaar en mekaar ondersteun, tyd te spandeer - en mekaar op te bou as die  gemoed dalk so bietjie gedaal het! Die belangrikste en lekkerste is egter die geestelike groei!”

 

“Ek kan net die Vader hoor sê: ‘I’m well pleased with My daughters. They witness My unconditional love and acceptance’”.

MANNEGROEP

Hierdie Vrydagoggend byeenkomste is nie 'n tradisionele "Bybelstudie" of "Gebedsgroep" nie, dis eerder 'n "Life Coaching Experience".

 

Dit is 'n veilige plek waar ons relevante en soms moeilike onderwerpe by die horings pak (onderwerpe wat van toepassing is op ons mans in ons daaglikse lewe).

 

Dis ‘n geleentheid waar ons rondom God se Woord en met die hulp en begeleiding van die Heilige Gees en gebed, mekaar kan ondersteun en by God en by mekaar kan leer hoe om te oorleef as Christen mans in 'n moderne samelewing.  Sodoende groei ons in geloof, leef ons nader aan God, en kry ons gereedskap wat ons toerus om as Christene in 'n moderne wêreld te oorleef.

 

Ons kry nie, of het nie altyd al die antwoorde nie. Onderwerpe verander soms spontaan soos die Gees ons lei en/of iemand in die groep raad of ondersteuning nodig het in 'n spesifieke situasie. Dit maak juis hierdie Vrydag-manne groep uniek, 'n groeipunt, 'n ondersteuningsnetwerk vir mans in ons gemeente..

 

Ons kom Vrydae vanaf 06:00 tot 07:00 in die gebedskamer bymekaar. Vir meer inligting kontak Leon (082 901 3361)

 

In die woorde van huidige lede:

“Thank you for all your time, effort, insight, wisdom, sharing and caring. Every single Friday morning together has meant the world to me. It doesn't feel right if we miss a day. I have learnt and grown so much. It is not a prayer group, nor a Bible study, but rather a life transforming, life improving get together.”

Craig

 

“Dit is ‘n aangename spontane bymekaar wees van manne met ‘n gemeenskaplike oortuiging dat dit plaasvind in die Naam van die Here ons God, Hy wat uiteindelik die enigste Raadgewer vir die lewe is...”

Leon

Jong volwassenes

Ons jong volwassenes groep kom op Woensdae om 18:30 by die kerk bymekaar. Hierdie groep bestaan uit uiteenlopende jongmense, sommiges studente en ander jong werkende mense in ons gemeenskap.

Ons skep ‘n ruimte waar jong volwassenes welkom is, waar ons saam kan verhoudings bou en kan groei in dissipelskap en diensbaarheid.

Daar word ook op ad-hoc basis ander geleenthede gereël waar ons dinge op ander tye saam doen, soos om saam te gaan stap, betrokke te raak by ‘n diensprojek of na ‘n plek buite die dorp te ry om saam te kuier.

Indien jy op ons kommunikasie verspreidingslys wil wees, of meer inligting benodig, kontak JZ: 072 475 8152.

jong volw 2.JPG
jong volw.JPG
bottom of page