top of page

As Christelike familie aanbid ons God; koester en bemoedig ons mekaar en reik ons uit in ons omgewing

Ons Storie

 

 

 

Ons gemeente se storie lê verstrengel in die geskiedenis van die Laeveld. Aanvanklik was ons deel van die gemeente in Barberton, waar die goudstormloop mense van oral-oor laat kom het. Nelspruit was eintlik net die stasie wat geleë was op die Oosterlyn tussen Pretoria en Delagoabaai. (Maputo hawe) Nelspruit was dus net ‘n preekpunt van die Barberton gemeente.

Mettertyd is al hoe meer eredienste hier gehou: die goudmyne in Barberton het begin toemaak, en Nelspruit dorp het ontwikkel. Waar die poskantoor nou is was bokseile gespan en kerk gehou. Kinders is gedoop en die Nagmaal bedien. Kerkbasaars is ook onder bokseile gehou op die hoek van Bester en Voortrekker straat.

Nelspruit het die groeipunt van die Laeveld geword, en die leraars van Barberton gemeente het nou hier kom bly. In 1926 is die eerste kerksaal gebou en ingewy. Gemeentelede was erg ontevrede omdat die kerksaal buite die dorp gebou is!

Die saaltjie het mettertyd vervalle geraak en is in 1993 gesloop. In sy plek staan daar nou die grys gebou met die motorhawe oorkant die kerk. Die oorspronklike hoeksteen van die ou kerksaaltjie is ingemessel in die konsistorie muur agter die preekstoel.

Huisbesoek was gedoen tot by Komatipoort. Mettertyd is die behoefte gevoel om af te stig van Barberton. (Daar was interessante gebeure rondom die afstigting; het jy geweet dat die stigtingsdatum van ons gemeente op ons kerk se hoeksteen verkeerdelik aangegee word as 1889? In 1952 is die huidige kerkgebou ingewy, en in 1976 die kerksaal.

Die gemeentes van Alkmaar, Nelpruit-Suid en Nelspruit-Westergloed is deur die jare afgestig van ons. En toe begin iets gebeur wat alle middestadsgemeentes tref en dikwels daartoe lei dat hulle maar moet toemaak: besighede vervang woonhuise en die middedorp ontvolk!

Wat nou gemaak? Daar word ernstig oor gebid en die Here van die Kerk se leiding en wysheid word gesoek. Watter weg moet ons volg? Een opsie sou wees om te verkoop en in een van die nuwe uitbreidings te gaan kerk bou. Dis nou eenmaal so dat diefstal uit motors, stadsgeraas, gebrek aan parkering, en hoë geboue wat teenaan die kerk opgaan, lidmate sou kon verhinder om eredienste hier by te woon. Straatmense, werkloses en bedelaars het die uitdagings verhoog.

Daar is ook ander uitdagings. Sou die huidige gebou hom verleen tot die gebruik van moderne visuele hulpmiddels? ‘n Nuwe gebou sou maklik kon aanpas by die behoeftes van die lidmaat van vandag. Maar God het ‘n ander plan met ons. Nadat daar baie gebid is om leiding het daar ingrypende waarhede as geloofsuitdagings na ons gekom: Ons mag nie ons unieke posisie in die stad om die evangelie hier te verkondig waar dit ‘n werklike verskil maak, prysgee nie. Die kerktoring is ‘n sigbare simbool van Die Ware God se teenwoordigheid in die middedorp.

Die “probleem” van straatmense, werkloses en persone met ander vorme van afhanklikheid het ons opdrag geword. Die sin van ons voortbestaan het kom lê in ons bereidheid om vir die sondige en stukkende wêreld die GESIG van JESUS te wys wat hul liefhet. Geen ander kerk of gemeente in Nelspruit sou kon doen wat ons doen nie. As ons bereid sou wees om die luuksheid en die weelde van ‘n tipiese nuwe kerk prys te gee, sou ons hierdie wete hê dat ons binne God se wil optree. Ons het eintlik nie nodig om God se seën te vra nie. Want God seën diegene wat binne sy wil lewe.

En dit is wat gebeur het en nog steeds gebeur. Ons gebou het nie onsigbaar geword tussen hoë geboue nie. Ons vorm deel van ‘n pragtige deel van ‘n stadsplein. Heel waarskynlik is ons die mees sigbare teken van Christus se teenwoordigheid in Nelspruit. En dit word bevestig deur die uitreiking van ons gemeente na alle mense in nood.Ons staan bekend daarvoor dat sou jy nood hê, dan is dit die gemeente waar jy gehelp word

Die probleme wat ons in die gesig gestaar het, het gewyk. Oral rondom die kerk het ons parkering met wagte wat na ons motors kyk. Ons gebou het hom ook maklik geleen tot verskeie elektroniese opgraderings. Die gemeente bestaan uit lidmate waarvan meer as 50% buite ons grense bly. Gelowiges kom aanbid hier saam omdat hulle wil, en baie maak moeite met hul betrokkenheid – (lees gerus die vertellings van onderlinge sorg.) Die gemiddelde ouderdom van ons lidmate is 34 jaar. Ons gemeente het 1,113 belydende lidmate met by die 500 kinders. Babatjies word maandeliks gedoop. Sondae na die erediens staan mense heerlik om die kerk en kuier; ons beleef al hoe meer ‘n onderlinge liefde vir mekaar. ‘n Liefde wat ons wil verstewig deur mekaar beter te leer ken. Meer as die helfte van die gemeente is by klein groepe ingeskakel.

Dit is ons droom en doel dat elke lidmaat ‘n versorgingsplekkie sal vind in ‘n kleingroep. Die gemeente het drie leraars. Hulle vul mekaar wonderlik aan. Die werk word ook onderling verdeel na gelang van hul gawes. Die gemeente is vry om enigeen ter eniger tyd te bel sou daar ‘n nood ontstaan. Hulle is maklik bereikbaar en geheel toeganklik.

Na al die jare staan ons nog in stom bewondering vir God se pad met ons. So voorsien Hy ons van fondse om die kerkgebou langs ons kerk te bekom in ruil daarvoor dat ons ‘n kerk-en-skool kompleks vir die Assemblies of God gemeente bou. Ons kon vir ‘n ander kerk ‘n gebou van hul keuse oprig. Hul ou gebou het ons toe toegerus met ‘n gehoorsaal waar dienste Sondae gehou word vir straatmense. ‘n Gerieflike kombuis vir die daaglikse kosvoorsiening, ‘n eetplek, opleidingslokale en kantore sodat daar gemeenskapswerk gedoen kan word. Ons beleef die voorreg om die unieke en uiters belangrike rol te vervul as ankergemeente van gemeenskapswerk in Nelspruit middestad.

bottom of page